The University of Stellenbosch
asked for tenders to develop some of their property for student accommodation
and that lead to this press release:
MEDIA VRYSTELLING - 22 September 1998
Ten spyte van beskikbare akademiese kapasiteit is die Universiteit van Stellenbosch
jaarliks genoodsaak om groot getalle verdienstelike studente weg te wys weens 'n
tekort aan huisvesting. Die voorsiening van bykomende studentehuisvesting het dus
noodsaaklik geword. Die Raad van die Universiteit het gevolglik op 21 September
1998 die oprigting van 'n behuisingsprojek om ongeveer 600 studente te akkommodeer
in beginsel aanvaar.
Die raad van die Universiteit van Stellenbosch het mnre Syfin aangestel om 'n
R50-miljoen studentebehuisingskompleks teen November 1999 op 'n terrein van
ongeveer 3,5 hektaar net oos van die huidige Fakulteit Ingenieurswese op te rig.
Die voorlopige voorstel is gedoen met inagneming van 'n omgewingsimpakstudie wat
deur Dr Johan Neethling uitgevoer is in konsultasie met kundiges op die gebied van
natuurbewaring sowel as met verteenwordiges van die naasliggende woonbuurt. Die
impakstudie het daartoe gelei dat 'n bufferstrook langs die Duthie-reservaat en
langs Banghoekweg geidentifiseer is om enige moontlike impak op die reservaat en
die omliggende woonbuurt te beperk.
Volgens die raadsbesluit sal die ontwikkelaar in samewerking met die Universiteit se
Afdeling Fisiese Beplanning, en met insette van belanghebbendes, 'n finale voorstel
vir goedkeuring aan die Raad voorlé.
Die Universiteit nooi alle belanghebbendes om 'n openbare vergadering by te woon
om die ontwikkelingsvoorstelle te besigtig en om insette oor die ontwikkeling te
lewer.
Mnr Hans-Peter Bakker, Hoof: Kommunikasie